Die moeras en verwronge morele kompas van Afrikaans deur Donovan Beukes o.b.a Salamander

Na ‘n week van absolute skokkende onthullings van onaardse voortrekkerstuipe en vreeslike, vervloekende verwensinge, gepeper met uitroepe van dood en publieke gespuug op sosiale media, asook  die braak van pure haat en nyd vir wat beskryf was as ‘’kreool Afrikaanssprekende verraaiers’’ in die vorm van Marianne Thamm en Casper de Vries ; duur die saga en gemor voort in hierdie artikel om eens en vir altyd die gestry oor aan wie Afrikaans nou eintlik behoort, voort te sit.

Ek wil graag myself eerstens met trots identifiseer as ‘n KAK ( Kaapse Afrikaanse Kleurling) of CAC ( Cape Afrikaans Coloured). Meteens hoor ek die skielike en onverwagte insuig van verfoeilike asem en hande wat na harte gryp van onsekere skok en sien ek net wenkbrouliggende voorkopplooie! Ja, dis reg. Ek verklaar myself as juis dit! Die feit dat ek die produk is van defnitief ‘n Duitse oupagrootjie en watter mengelmoes ookal verander nie die feit dat ek myself identifiseer met Afrikaans as moeder-, lees- en spreektaal nie. My velkleur gee my net die lisensie om verder met die taal te baljaar en te rinkink in die speserye en klanke van ‘n taal wat nou al te lank net deur een rassegroep geëien word.

Marianne Thamm het in haar artikel in ‘Daily Maverick’ van 14 Augustus 2014 drie interessante punte uitgewys:

Sy noem onder andere dat “as jy ‘n inheemse Suid-Afrikaanse taal of Engels praat, mag jy salig onbewus of selfs ongeïntereseerd wees van die donker strome wat rondborrel om Afrikaans, wie die reg het om die taal te praat en hoe hulle dit mag doen.”

Ek stem heelhartig saam met hierdie sentimente wat Marianne so puik ontbloot het. Dit sluit perfek in met wat ek wil uiter oor die hele stresvolle onderwerp. Ek praat ook die taal vlot; te danke aan my apartheidsopvoeding en die feit dat dit my moedertaal in die huis was, asook in my hele familie, verder verryk deur hulle verskillende streekdialekte. My eerste Afrikaanse musieknote was uitbassuin deur Sonja Harold se ‘Trein na Matjiesfontein’ en ‘Janjie kô huis toe’. En dan was ek musikaal ook mishandel deur polssnyende woorde en beswaarde note van Bles Bridges op so ‘n jong ouderdom ! Nieteenstaande, het dit my liefde vir die taal gemessel. Tans kan ek nie genoeg kry van Casper de Vries se nuwe ‘Casper Radio Show’ op Cliffcentral.com nie ! Sy grappe en hantering van die taal se vele reuke en geure het my van jongs af al getref, veral toe ‘Grietjie Appelmoes’ haar verskyning gemaak het. My kakebene is al van daai tyd telkemale in dieplaggende pyn. Hy is ook niks bang om op voortekkergesinde tone te trap nie, al is dit net op Tant Sannie se eeltbelaaide rooibevlekte knoptone !

Alhoewel ek bewus was as jong kind dat die taal meestal deur blankes gesing en gepraat was op radio en televisie, het dit nie juis by my saak gemaak op daai tydstip in my lewe nie.

Mense soos Taliep Pietersen en David Kramer het my oë wyd oopgemaak met hulle treffermusiekblyspel  ‘District Six-The Musical’ my eerste musiekblyspel ooit,  wat ek as tiener by die Baxter Teater gaan kyk het. Nie net het dit my oë en verstand polities verder oopgemaak nie, maar ek het ‘n intense bewondering en respek vir die dialekte van die taal gekry deur die akteurs se puik vertonings. Ek was ook baie beïndruk deur Sharleen Surtie-Richards se toneelspel, alhoewel sy die kenmerkende standaard KAK (Kaapse Afrikaanse Kleurling) bediende rol gespeel het! Haar rol in ‘Fiela se kind’ het vir my hele familie soveel betekenis gehad met al die realistiese temas en emosies wat in ons gemeenskappe talle harte geraak het deur hul eie ondervindinge en opofferings.

Toe ‘skoppensboer’ met durf en moed vir Marianne Thamm aangeval het op sosiale media oor haar “creole” Afrikaans na haar artikel, in plaas van Standaard of Algemeen Beskaafde Afrikaans; het my bloed net weer begin borrel van frustrasie. Hoekom vra jy dalk?  Wel, lees verder en jy sal uitvind.

Afrikaans se wortels kan nie verduidelik word sonder om vir Jan van Riebeeck te noem nie. As die Kaap en Holland se eerste goewerneur in 1652 was hy beveel om ‘n versversingspos daar te stig vir die VOC ( Nederland se slawetrots) se skepe op hul reis na en van die Ooste. En so het dit toe begin…Afrikaans het uit ‘n mengelmoes van bronne ontwikkel en sy wortels lê wydsbeen verspreid oor Afrika, Asië en Europa. Elke matroos, amptenaar, soldaat en vakman het van heinde en ver na die Kaap geswerf met hul eie tale en vaardighede.

Die VOC se taalbeleid was soos verwag, baie streng en het almal gedwing om Hollands te praat, lees en te skryf. Dit het natuurlik die Khoi-groepe in die omgewing en die slawe uit Afrika en die Ooste ingesluit. Soos julle kan raai het die mengelmoes al daar begin ! Die Kaap was skielik nie meer Hollands nie! In skrif wel ja, maar die taal was meteens gegooi in ‘n kerriepot van taalverskeidenheid en mens was dit nou ‘n taalpiekniek ; soos waargeneem in 1671 deur reisigers. Die blote feit dat Kaaps-Hollands nie meer dieselfde geklink het en nie meer as ‘n dialek van Hollands geklink het nie, het die sogenaamde ‘vader’ van Afrikaans, Arnoldus Pannevis genoop om die ‘nuwe’ taal AFRIKAANS te doop. Van hier af het alles net blerrie wrang geraak. Omdat die taal as geskrewe taal erken moes word, was daar in 1875 besluit om ‘n Vereniging te stig genaamd ‘Genootskap van Regte Afrikaners’. Hul rede vir dit? Die ‘manne’ op die vereniging het gevoel daar was op daardie tydstip verskillende soorte Afrikaners in Suid-Afrika naamlik:

  • Afrikaners met Hollandse harte wat nog vasgeklou het aan hul moederland 225 jaar gelede
  • Afrikaners met Engelse harte wat die taal en kultuur van die Engelse regering aanvaar het as hul eie
  • Regte Afrikanders met Afrikaanse harte wat die taal en kultuur van die nuwe land as hul eie aanvaar het.

Nou vra ek julle, op hierdie stadium het die ‘manne’ reeds anderskleurige Afrikaansprekendes misken, so wie de vok sou na hulle belange omsien? Dis net die blote feit dat die ‘manne’ nie wou toelaat dat Britse kultuur hulle jong Afrikaanse kultuur verswelg het nie; dat daar besluit was om dit teen te werk. En net hier was die fout gemaak om nie ALLE Afrikaansprekendes te beskerm nie, veral anderskleuriges wie se voorvaders die taal sien hervorm het oor en oor. Ja, sommiges het besluit om te verengels MAAR andere het nog steeds Afrikaans as huistaal en voertaal behou maar omdat hulle nie erken was as gelykes nie, was die ‘Regte Afrikaners’ se voorland bedoel om te verbrokkel. Ok, dit het nou soveel jare geneem maar nou sit hulle op ‘n sosiale koppie êrens uit die hoogte en braak hulle misnoë uit oor die heerlike, smaaklike kerriepot van die Afrikaanse taal in al sy kleurryke glorie en verskeidenheid.

As hulle tog maar net meer inklusief gewees het, kon dit vandag as wêreldtaal trots op die wêreldtaalkaart gepronk het maar NEE, nou word dit gesien as ‘n wit, plooivervulde, ekslusiewe taal wat net deur ‘wit’ Suid-Afrikaners gepraat word. Ek’s bevrees mense dat die ‘manne’ van die ‘genootskap vir regte Afrikaners’ ‘n brandewyntjie te veel gehad het! Dis mos juis hoe hulle met die Khoi-groepe kennis gemaak het…”hey hotnot…wil jy bietjie vuurwater hê? ‘n bottel vir ‘n bees…julle sal nie spyt wees nie! Dit belowe ons vir julle!”

Ai ja…en so gons die debat aan tot ‘Thy Kingdom Come’…o wag…glo hulle nog wragtag dat net die pure sprekers van die taal die Hemel sal ingaan?  En nou kan ons bid vir samehorigheid en verstaning. Laat die skille van julle oë afgly en die eeue oue earwax wegsmelt om julle hardhorigheid gesond te maak. Julle het die taal versmoor met julle breinbespoelde generasiestories van ouds. Gelukkig het die taal bly voortleef op die Kaapse Vlakte, gesprinkel met die speserye van ouds wat julle voorvaders aan ons voorvaders bekendgestel het! O wag…hoe kon ek vergeet? Ons deel dieselfde voorvaders!

Ja mense, daar is bewyse dat baie wit prominente figure van ons eie KROTOA, of EVA soos sy genoem was, afkomstig is; selfs al was hulle wettiglik as wit verklaar: Mense soos Transvaal President Paul Kruger, Eerste Minister Jan Smuts en laastens F.W de Klerk. Publieke figure sal nooit hulle Khoi voorvaders bekend maak deels uit skaamte en deels om wettige redes.

Ek wil graag afsluit met die woorde EVA forEVA! Haar naam was Krotoa en sy was die eerste vroulike ambassadeur in die Kasteel De Goede Hoop in Jan Van Riebeeck se huis, waar sy as tolk vir haar mense gedien het. Dink julle nie ook dat haar historiese naam op ‘n hoofweg of instelling in die Kaap moet pryk nie?

Kratoa aka EVA van Meerhof

Advertisements

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s